Vrae wat dikwels gevra word:

1. Wanneer het jy begin skryf?

Vandat ek kon praat het ek stories vertel en op skool het ek graag opstelle en briewe geskryf. Maar my eerste poging om ‘n boek die lig te laat sien, was in 1999 met die skryf van, “Die wingerd sal weer bot.” ‘n Onskuldige romanse in die wynlande van die Kaap. Tot my groot verligting en blydskap is die manuskrip aanvaar en is dit in 2000 deur Lapa uitgewers uitgegee. Aan die einde van 1999 het ons in die Switserse Alpe vakansie gehou en terwyl ons oujaarsnag na die wonderlike vuurwerkvertonings oor die berge gekyk het, het ek ernstig aan my nuwejaarsvoornemens vir die nuwe millenium gedink. En die enigste gedagte wat by my opgekom het, was dat ek graag nog boeke sal wil skryf.
Terug in die Kaap, hoor ek van Martie Preller se internetskryfkursus en ek besluit dis dalk net wat ek nodig het om te sien of ek dit regtig wil doen. Dit was ‘n baie interessante leerskool en by tye het ek my bedenkinge gehad, maar die saadjie was gesaai en teen die einde van die kursus het ek geweet ek gaan op daardie vreemde pad stap, al is dit by tye nie ‘n maklike pad nie.

2. Waarom het jy aanvanklik onder ‘n skuilnaam geskryf?

Dit was waarskynlik ‘n mate van selfbeskerming indien daar nie verdere boeke gaan volg nie. As niemand weet ek het die boek geskryf nie, kan niemand my vra of ek weer een gaan skryf nie. Ek dink die vrees dat daar nooit weer ‘n storie by jou gaan kom aanklop nie is iets waarmee baie skrywers waarskynlik moet saamleef. Na twaalf boeke is die vrees steeds daar, maar ek het darem al ‘n mate van vertroue in die proses gekry. Toe Tafelberg in 2001 ‘n manuskrip koop, het ek besluit om die naam Wilmine Burger aan die Lapa boeke te koppel en by Tafelberg voort te gaan onder my eie naam.


3. Skryf jy hygromans?

Nee. My stories gaan oor mense en menswees. En veral oor die eiesoortige dans wat ontstaan die dag as twee mense mekaar ontmoet of her-ontmoet. Binne die ontdekking van ‘n ander persoon lê daar soveel interessante moontlikhede opgesluit en bly dit vir my ‘n interssante tema. Romantiese fiksie word dikwels deur onkundige lesers en kritici voor die voet afgemaak as hygromans, maar ek is dankbaar dat daar wel lesers en resensente is wat nie in die ge-ykte slaggat trap nie.
Op ‘n ligter noot, ek sal nogal graag wil hoor indien een van my boeke ‘n leser laat hyg het…en waar in die boek dit plaasgevind het.

4. Glo jy romanse bestaan nog?

Ja. Ek glo nie dit lyk meer soos twintig, vyftig of ‘n honderd jaar gelede nie, maar ek glo dit is steeds ‘n hunkering wat die meeste mense ervaar. Daardie ontmoeting en herkenning van ‘n potensiële sielsmaat of iemand wat bereid is om ‘n pad saam met jou te stap. Die reëls en gebruike wat ‘n honderd jaar gelede bestaan het, het dit waarskynlik makliker gemaak vir daardie geslag mans en vrouens. Vrouens was die swakkeres en mans die sterkes en binne daardie opvatting is die romanses bedryf. Ek dink egter dis ‘n interessante uitdaging om in vandag se tye, waar geen reëls of gebruike meer geld nie, ‘n betekenisvolle romantiese verhouding met iemand te hê. Dit vra van ‘n mens heelwat meer kreatiewe denke, maar dit kan gedoen word. Sonder al die clichés wat die media deur middel van pienk hartjies wil verkoop.

5. Is dit nie onregverdig teenoor al die gewone mense om altyd oor groot sterk mans en mooi vrouens te skryf nie?

Dis ‘n wanbegrip wat ek kan verstaan, maar wat ek graag sal probeer opklaar. Mooi is ‘n relatiewe begrip en dis onmoontlik om ‘n karakter te skep wat vir alle lesers mooi of sterk gaan wees. Daarom moet ‘n leser verstaan dat ‘n karakter slegs in die oë van ‘n ander karakter sekere eienskappe kan hê. Wanneer ‘n manlike karakter ‘n vroue karakter mooi vind, is dit nie omdat sy noodwendig vir alle mans mooi gaan wees nie, maar omdat hy haar aantreklik vind. En dieselfde geld vir ‘n vroue karakter wat na ‘n man kyk. Sy moet iets in hom vind wat haar aantrek, anders is daar nie ‘n storie nie. Soos hulle sê, “Beauty lies in the eye of the beholder.”

6. Waar skryf jy?

Mense nooi my dikwels om van mooi en interessante plekke by hulle gebruik te maak. Sommige van hierdie plekke kan selfs as eksoties beskryf word, maar ek het geleer wanneer ek begin skryf moet ek agter my eie lessenaar sit met my bekende kennisgewingbord vol nota’s en foto’s langs my. My aantekeninge en notaboeke langs my en my yskas naby waar ek my na liggaam en siel kan gaan verkwik wanneer die karakters my laat kopkrap.
Dis vir my belangrik om voor ‘n boek so wyd as moontlik te gaan rondloop sodat die storie kans kry om te groei en ek die geleentheid het om dinge, soos beelde, reuke, klanke, gesigte ensovoorts in my geheue te versamel. Al daardie inligting en herinneringe word egter op ‘n dag, soos kersvader se sak geskenke, terug na my studeerkamer gesleep om deel van die storie se doek te word.
Alles is egter moontlik en toe my man vir ‘n jaar in Nigerië gewerk het, was ek verplig om te skryf waar ek ookal gekom het. Op lughawens, in vliegtuie, in hotelkamers ensovoorts. So ‘n bestaan bied weer sy eie uitdagings en plesiere.

7. Wie is jou gunsteling skrywers?

Ek het ietwat van ‘n gesplete persoonlikheid as dit by boeke kom en kan moeilik skrywers uitsonder. Ek word verlei deur stories en enige boek met ‘n sterk storielyn, geloofwaardige karakters, en ‘n goeie verteltrant sal my interesseer.
My leeservaring strek van:
Vroeë tienerherinneringe sluit beslis vir Tryna du Toit, Ena Murray en Ettie Bierman in.
Leon Uris het gevolg en daarna die wonderlike politieke rillers van Frederick Forsythe, Robert Ludlum en Nelson de Mille.
Ek het al ‘n draai gemaak deur Wilbur Smith se avonture.
Uys Krige se reisverhale en Hennie Aucamp se kortverhale.
Elisabeth Eybers se gedigte.
Joanne Harris het al aan die beurt gekom.
Jilly Cppoer se vroeëre boeke vir geen ander rede as dat hulle so dekadent is nie.
“Triomf” deur Marlene van Niekerk was ‘n Afrikaanse hoogtepunt.
“The Reader” deur Bernard Schlink was soos ‘n vuishou op die maag.
Vikram Seth se “An Equal Music” is seker een van die mooiste liefdesverhale wat ek al gelees het.
Paulo Coelho se boeke word weer en weer gelees.
“The Poisonwood Bible” deur Barbara Kingsolver was ‘n wonderlike geskenk.
Koos Kombuis se “Sex, drugs en rock en roll” het my baie aan laat wonder oor die proses van kind grootmaak.
Deon Meyer is op die oomblik ‘n groot gunsteling in die huis en sy 13 Uur is in my oë ‘n kragtoer.
“Snow” deur Orhan Pamuk het my bang gemaak vir fundamentaliste.
“Spud en Spud, the madness continues” het my ure lank vermaak.Met drie seuns wat in ‘n kosskool was, het ek nie geweet of ek my moet doodlag of dood bekommer nie.
Life of Pi deur Yan Martell spook nog by my.
Markus Zusak se “The Book Thief” het my hart gesteel en is beslis hoog op my lys.

Onlangs gelees:

Chanette Paul se Fortuin.
“Staan in die algemeen nader aan vensters”. ‘n Digbundel deur Loftus Marais.
‘n Blywende Vreugde. Audrey Blignaut se bundel briewe.
On Chesil Beach deur Ian McEwan

Onlangs gekoop en wag op die boekrak om gelees te word:

“30 Nagte in Amsterdam” deur Etienne van Heerden
“The sleeping doll” deur Jeffrey Deaver
“God en die Gode van Egipte” deur Willie Esterhuyse
“The Black Echo deur Michael Connely
“Love in the time of cholera” deur Gabriel Garcia Márquez
“The God of small things” deur Arundathi Roy

8.Waar kry jy jou stories?

Karakters kom meld hulle gewoonlik op ‘n dag by my aan en verlei my dan om hulle storie te vertel. Ek kan nie stories uitdink nie en moet maar geduldig wag dat die karakters vir my hulle stories vertel.

9. Is enige van jou boeke op ‘n ware verhaal gegrond?

Nee. Nie sover ek weet nie. As mense hulself in sekere stories herken, is dit werklik toevallig en nie omdat ek doelbewus die storie rondom hulle wou skryf nie. Die onderbewuste is ‘n vreemde ding en ‘n mens weet seker nie wat alles daar lê en wag om eendag gebruik te word nie.

10. Doen jy navorsing voor jy ‘n boek skryf?

Ja. As die verhaal op ‘n spesifieke plek afspeel, sal ek sorg dat ek daar gaan rondloop om die gevoel te kry. Ek probeer so ver as moontlik myself ook vergewis van feite voordat ek daaroor sal skryf.
Die meeste navorsing wat ek nog moes doen, was vir die laaste boek, Die boek van Ester. Aangesien ek vir ‘n tyd in die Laeveld gewoon het, was dit nie vir my ‘n vreemde plek nie, maar ek het weer teruggegaan om sommer net weer die gevoel te kry. Ek het op ‘n olifant gaan ry omdat ek geglo het dis belangrik vir my om te voel hoe dit voel. Ons het ‘n aand by ‘n rehabilitasie sentrum vir olifante deurgebring terwyl daar ‘n paar jong olifante aangekom het. Ek was gelukkig genoeg om in ‘n helikopter oor die Laeveld te vlieg. Gedurende ‘n besoek aan ‘n wildernisgebied het ek baie ure met die gidse spandeer en baie by hulle geleer. Aan die einde van die boek is daar ‘n lang lys persone wat bedank word en dit is omdat hulle almal werklik meegehlp het dat ek die storie kon skryf.

11. Gaan daar ooit ‘n opvolg op enige van die boeke geskryf word?

Ek het altyd gesê ek sal nooit ‘n opvolg skryf nie, omdat ek glo dit kan potensieel die eerste boek skade aandoen as dit nie ‘n storie is wat op sy of haar eie bene kan staan nie. Ek voel steeds so, maar met die volgende boek, gaan ek tog terug na vorige karakters, nie soseer as ‘n opvolg nie, maar om die verhaal van een van die ander karakters te vertel. So, wie weet, eendag loop ek dalk terug op van die ander boeke se paaie ook.