‘Vier seisoene kind’ is vol wysheid, skerp en snaaks

2010-06-26 06:15

SY tel die bottel sjampanje op en draai dit in haar hand rond. Die koning onder wyne en die wyn vir konings. Gebottelde borrels. Sprankeldrank. Partytjiedrank. Heildronkdrank. Op die ou jaar, die nuwe jaar, uitslae, tuiskomste, afskeide, nuwe lewe, verjaardae en troudae. Blink borrels om die lewe te vier. Wat sal sy vanaand vier? Hoe stel ’n mens ’n heildronk in op die lewe en die dood? Wanneer die twee gesigte saam vir jou kyk. Wat lê tussen daardie twee gesigte? ’n Naamlose plek tussen lewe en dood. ’n Alleenplek.”

Vier seisoene kind vertel Cato se storie. Cato wat terugkeer na Stellenbosch ná vyf jaar. Haar man is dood. En sy is alleen. Sy keer terug na Kristina en Helen, haar universiteitsvriendinne. En na die teaterrestaurant wat sy gekoop het.

Vier seisoene kind hanteer een van die grootste vraagstukke in die lewe – hoe hanteer ’n mens verlies. En Wilna Adriaanse slaan die spyker op die kop. Met skerp metafore kry sy dit reg om jou nie net deel te maak van Cato se lewe nie, maar jou te laat wonder oor jou eie verlies. En jou te laat terugdink aan hoe jy dit gehanteer het.

Die boek is allermins net trane, tissues en tragedie. Dis ’n lekkerlees-boek. En beslis ’n roman wat jou intelligensie prikkel.

’n Boek waarin ek nie kon help om wyshede te onderstreep nie. Cato se storie neem ’n interessante wending en soos sy sê: “As ek toe geweet het wat ek nou weet, moes ek op nóg meer tafels gedans het. ’n Mens behoort eintlik elke moontlike geleentheid wat jy kry fees te vier, want jy weet nooit wanneer die lewe sy rug op jou draai en daar nie meer tafels is om op te dans nie.”

Wilna Adriaanse het met haar ander boeke Rebecca, Met ander woorde en Die boek van Ester wegbeweeg van die tradisionele liefdesverhaal. Hierdie verhale met hul komplekse karakterisering en verwikkelde storielyne het vinnig topverkopers geword en haar leespubliek sterk uitgebrei. Die boek van Ester is onlangs met die ATKV-liefdesromanprys bekroon.

Vier seisoene kind het my nuuskierigheid geprikkel oor Adriaanse se ander boeke. Dit is anders as ander romans. Dit is skerp en snaaks en soos Cato sê: “Dit is al daardie verdomde sprokies wat ’n mens hoor as jy klein is.

Die prins ontmoet op ’n dag vir Aspoestertjie and they live happily ever after. Niemand sê vir jou Aspoestertjie sien op ’n dag die stalkneg kaalbolyf die perd afborsel en dat sy wonder nie. Of dat die prins die nuwe kombuis-assistent met begerige oë agternakyk nie.”

My raad aan jou is, lees dié roman