Thomas Merton, ’n Amerikaanse Trappiste-monnik, skryf in een van sy joernale dat ’n mens etlike seisoene in een bepaalde plek moet bly as jy daar tot rus wil kom en geestelik gevestig wil raak. En eeue reeds beaam die sprokies dit: “ Vir ’n jaar en ’n dag het die prins deur die wêreld gereis”, “ Vir ’n jaar en ’n dag het die koningin gewag”.

’n Jaar en ’n dag, vier seisoene, is ’n magiese tyd.

Hierdie sprokie-gedagte lê ten grondslag van Wilna Adriaanse se jongste roman, Vier seisoene kind. Die titel (wat hierdie tema van noodsaaklike, verbygaande tyd beklemtoon) is ontleen aan ’n lied van Gian Groen.

Hoewel die roman geen sprokie is in die ware sin van die woord nie, is dit sprokiesagtig van aard: ’n jong weduwee ontmoet ’n (beroemde) man op ’n vliegtuig, hul paaie kruis later weer en ná vier seisoene, ’n jaar en ’n dag, loop die verhaal uit op die gelukkige en voorspelbare einde soos dit in ’n sprokie hoort.
Maar Adriaanse is ’n knap skrywer wat daardie eenvoudige gegewe tot bykans 500 bladsye se lekkerlees uitbrei.

En by die vertel betrek sy die teaterwese, die restourantwese, die klassieke mitologie, rasseverhoudings, vriendskap, swangerskap, naywer, die liefde, en eindelose gesprekke oor elke moontlike onderwerp onder die son. En nogtans – en dit is haar gawe – kry sy dit reg om onderhoudend te bly. Daarby is haar milieutekening goed – die strand by Langebaan, haar tuin en die verskillende interieure vorm ’n goeie agtergrond vir die karakters.

En sy skep karakters wat ’n mens nogal bybly: die drie vriendinne, Cato, Helen en Kristina, elkeen na haar eie aard (hoewel Helen nie altyd oortuig nie) ; die twee selebriteite Paul en Jacob ; Adriaan, die bestuurder van die restourantteater, Sonia, Jacob Alheit se bestuurder, en selfs Nelson, die sjef, in sy stugheid. En die onderlinge verhoudings (veral tussen Cato en haar pa en haar stiefma) word oortuigend uitgebeeld.

Vermoeiend word soms die onophoudelike, dikwels gedwonge lighartigheid, die pogings tot humor, die gespot heen en weer.
En hier teen die einde van die verhaal wentel die spanning onrusbarend af – Cato se lang brief aan haar dogter is gedeeltelik die rede hiervoor. Maar die slot is bevredigend.
Adriaanse se Vier seisoene kind maak ’n gawe bydrae tot die ¬somer se strandleesstof.

Cecile Cilliers is ’n vryskutresensent.