Vier seisoene kind, die jongste roman uit die pen van Wilna Adriaanse, handel oor Cato, ’n karakter uit ’n vorige roman van haar, Met ander woorde. Dit is nou vyf jaar later en Cato keer as 29-jarige weduwee vanuit Londen terug na haar universiteitsdorp, Stellenbosch, waar sy ’n teaterrestaurant gekoop het. Op die vliegtuig sit ’n man langs haar wat siniese kommentaar op haar situasie lewer. Eers later herken sy hom as Jacob Alheit, ’n bekende sanger.

Die verhaal van Cato is ’n liefdesverhaal. Dit val onder die genre van romantiese fiksie. Maar dit is nie die geykte liefdesverhaal van “boy meets girls, they fall in love and live happily ever after” nie. Die storielyn is ietwat meer ingewikkeld en die karakters word nie net eensydig en stereotipies uitgebeeld nie. Ja, daar is die tipiese “mooi” held en heldin (ook die ander karakters is aantreklik) met die gelukkige einde, maar die heldin is nie broos nie en wag nie dat sy deur die held gered word nie. Nee, Cato is sterk, denkend en onafhanklik. Sy tree op en sit nie pateties en wag vir hulp nie. Jacob is feilbaar en vol foute. Die karakters is karakters met wie die leser sal kan identifiseer. Hulle is moderne komplekse mense wat in moderne taal praat oor moderne “issues”, hetsy dit moontlike huweliksontrouheid, mislukte swangerskappe, egskeidings en grootword as tiener is.

Cato, as die hoofkarakter, is in die boek ’n meer deurleefde karakter as in Met ander woorde. Dit is immers vyf jaar later en sy het sekere traumatiese gebeurtenisse, soos die dood van haar man en die terugkeer na Suid-Afrika sonder hom, ondergaan. Ook ’n teaterrestaurant gekoop waarvan sy niks weet nie. Vir my verteenwoordig sy die mens met die onblusbare energie om op te kan staan ná krisisse. Sy verteenwoordig die moderne vrou wat ten spyte van terugslae kan opstaan en aangaan met die lewe. Adriaan sê op p 318: “Weet jy, Cato, die bleddie tragedie is nie dat jou man dood is nie, maar dat jy ’n deel van jou laat saamgaan het. Eens op ’n tyd moes jy ’n baie intelligente vrou gewees het. ’n Dapper vrou met wie ’n mens kon praat en van wie ’n mens redelike optrede kon verwag. Almal wat jou geken het, sê so, maar al wat ek deesdae sien, is ’n ruïne van ’n eens glorious wese.” Op p 424 verwoord hy verder: “Sodra hierdie kind die lewenslig aanskou het, gaan ek en jy een aand hierdie plek se stoele wegskuif en op die tafels dans. Sommer net omdat jy so ’n bleddie dapper mens is en die lewe altyd beter van bo van ’n tafel af lyk.” Cato self beskryf haar situasie op p 90: “Hoe moet ek vir enige mens verduidelik hoe ek voel as ek dit self nie verstaan nie? Al wat ek weet, is dat ek bang is. Ek staan bang op en ek gaan slaap bang. Ek bly die hele dag bang en die ergste is, ek weet nie waarvoor ek bang is nie. Daar is die voor die hand liggende dinge, soos wat as ek nie van die teater ’n sukses maak nie en ek verloor al my geld of wat as my pa of een van julle ook nou skielik doodgaan. Maar dis meer as dit. Ek het vir myself bang geword omdat ek myself nie meer ken nie. Weet jy hoe voel dit om vreemd vir jouself te voel?” En dis waarskynlik hierdie gevoel waarmee baie lesers sal kan identifiseer. Tog ondergaan Cato ontwikkeling. Sy is aan die einde van die roman ’n sterker karakter as aan die begin. Sy stel dit só in ’n brief aan Lizzie: “Het die Rovos my toe op perron nêrens opgelaai? Ek is nie seker of dit die Rovos is nie, maar ons is aan die beweeg en dit is nie te sleg nie. Dis in elk geval baie beter as die leë perron en die spore na nêrens.” Ook die denkbeeldige “kat” wat Cato aan die begin van die boek sien en as “Verdriet” eien, is aan die einde weg: “En die kat? Ek gewaar nie meer die kat nie, maar dis nie asof hy gegroet het nie, hy was net een oggend nie meer daar nie. Waarheen hy verdwyn het, weet ek nie en of hy vir ewig weg is, weet ek ook nie. Vir nou is dit net lekker dat hy nie meer elke dag vir my kyk nie.” So het baie lesers ’n metaforiese kat of ’n hond of iets wat hom of haar jaag.

Die tema van die boek is nie net die sprokieselement van die liefde nie, al spot Cato self met die tema: “Dit is al daardie verdomde sprokies wat ’n mens hoor as jy klein is” en “And we all lived happily ever after, saam met Kersvader, die Paashaas en die tandmuis.” Die boek gaan oor die vraag: Wat as mens se lewe anders uitdraai as wat dit veronderstel is om uit te draai? Met ander woorde as jou “to do”-lysie nie meer lyk soos dit moet lyk nie, soos Adriaanse dit self in ’n onderhoud verwoord het. Vier seisoene kind gaan oor die wendinge wat in ’n mens se lewe voorkom en hoe jy op ander paaie gestuur word as waarvoor jy beplan het.

Die boek verwoord natuurlik ook die tema van verlies en die hantering van verlies, soos deur Cato verwoord op p 318: “Dit is so maklik vir julle almal om kommentaar te lewer. Cato is te maer, Cato huil te veel, Cato huil te min, Cato moet eet, Cato moet slaap, Cato moet treur, Cato moet minder treur. Gaan aan. Rou eers. Was een van julle al hier?” Saam met verlies, is die implikasie van ’n nuwe begin: Cato begin nuut op Stellenbosch, sy koop ’n nuwe besigheid, sy raak swanger, daar is die totsiens sê van die ou jaar en die groet van die nuwe jaar, en daar is die nuwe begin saam met Jacob.

Hierdie temas is almal temas waarmee elke leser kan identifiseer: Hoe hanteer elkeen van ons verlies, hoe hanteer ons die wendinge wat op ons pad kom en hoe hanteer ons nuwe beginne. Dit is wat die boek bo die tipiese liefdesverhaal laat uitstyg – die ingewikkelde storielyn, die kompleksiteite van die karakters, die bevraagtekening van die liefde.
Daar is verder ook die ander kleiner temas, soos vriendskappe en die waarde daarvan, die verhoudinge met ouers en skoonouers, die aanpassing in ’n nuwe dorp, enkelouer-tiener-verhouding.

Die tydsverloop in die boek is een jaar. Die tema van die verloop van tyd kom ook dus na vore. Die leser raak bewus van die verwysings na seisoene en tyd wat verbygaan, soos byvoorbeeld op p 455: “Dit is besig om herfs te word en die bome om ons huisie begin hulle blare verloor.” Adriaanse wou die verloop van tyd waarskynlik uitbeeld in die titel Vier seisoene kind. Vir my is die gebruik van die titel van ‘n lied uit die pen van Gian Groen net te toevallig en slaag dit nie werklik nie.

Die ruimtelike agtergrond is Stellenbosch en word stereotipies as die idilliese, mooi studentedorp uitgebeeld – al is Cato-hulle nie meer studente nie. Miskien is dit tog heel gepas dat Cato op so ’n mooi, idilliese dorp nuut begin. Anders as in onlangse romans waarin Stellenbosch ook as agtergrond gedien het en selfs metafoor geword het van iets bedriegliks en ontluisterend, bly dit hier slegs die letterlike dorp. Stellenbosch bly op die agtergrond en oorheers nie die verhaal van Cato nie. Die leser is vaagweg bewus van bekende plekke op die dorp, soos die middedorp, Victoriastraat, die Braak en die stalletjies, maar dit bly slegs die ruimte waarbinne Cato weer mens word. As voormalige teaterrestaurant-eienaar was ek veral nuuskierig oor die uitbeelding van die teaterrestaurant. Adriaanse beeld dit heel oortuigend en realisties uit. Sy oorromantiseer nie die wêreld van die teater en die kunste nie. Die restaurant raak selfs ’n mikrokosmos van Suid-Afrika en sy probleme: “Ek sal graag wil weet waarom Mimi so ’n uiteenlopende groep aangestel het. Die Verenigde Nasies. Ek weet net nie hoe verenig hulle klomp is nie. Ek vermoed as hulle die dag onder mekaar inklim, lyk die Midde-Ooste na ’n kinderpartytjie.” Die klein groepie wat daar werk, verteenwoordig dus ’n groep mense wat ook in die breë Suid-Afrikaanse konteks voorkom.

Die verhaal van Cato is chick lit en dit is ’n lekker boek om oor ’n naweek te lees. Dit lees nie moeilik nie, en dit wil en moet dalk juis nie, want dit is populêre fiksie. Tog laat dit die leser nadink oor universele kwessies. Ek sal lesers aanmoedig om die boek te lees, veral dié wat die drie karakters Cato, Helen en Kristina reeds uit die vorige boek leer ken het. Ook die leser wat iets meer uit romantiese fiksie wil kry as die gewone “Mills en Boon”-stories.