Son 20 Jun 2010, 10:53

Ek weet nie eintlik hoe dit gebeur het dat ek nié bewus was van die feit dat een van my gunsteling skrywers se nuwe boek verlede maand op die rakke verskyn het nie. Hoe dit ook al sy – ek was gelukkig genoeg om haar wel raak te sien terwyl ek my pa se Vadersdag geskenk gaan haal het. Toe ek boonop besef dat Wilna Adriaanse die geliefde drieman(vroue)skap van Met ander woorde weer op die voorgrond laat tree was dit onmoontlik om nié tyd af te knyp die naweek om te sien hoe die girls se lewens verander het in die vyf jaar sedert die einde van hul studente dae (waar Met ander woorde geëindig het) tot die begin van Vier seisoene kind nie.

Wilna Adriaanse is een van die suksesstories wat gebore is uit die Jasmyn imprint stal. Ek het destyds haar ‘n Ongewone belegging en Alleenvlug gelees as voorbeeld tekste toe ek vir Jasmyn keurverslae begin skryf het. Sy’t lekker lees romans geskryf wat altyd iewers ‘n interessante kinkel in die kabel gehad het. Sommige was ook heel tong-in-die-kies. Haar eerste ‘volwaardige’ roman, Rebecca, het steeds ‘n sterk Jasmyn-roman gevoel gehad. Maar ek dink dat dit met haar tweede roman, Met ander woorde, was wat Wilna Adriaanse se ‘stem’ duidelik na vore begin tree.

Dit het baie duidelik geword dat Wilna nie bang was om moeilike temas met geweldige deernis aan te spreek nie. In Met ander woorde was dit verkrag en in Die boek van Ester spreek sy politiese onstabiliteit, moord en die belangrikheid van natuurbewaring in Afrika aan.

In haar nuutste, Vier seisoene kind, is die hoofkarakter, Cato, ‘n weduwee wat nie net oor haar man se dood rou nie, maar ook skielik met ‘n ander probleem of twee gekonfronteer word. Soos vroeër genoem het sy en haar vriendinne reeds hul buiging gemaak in Met ander woorde en alhoewel nie noodsaaklik is dat ‘n mens dit eers moes lees om die nuwe boek te kan geniet nie, dink ek dit is ‘n belangrike deel van die verwysingsraamwerk vir hierdie boek. Veral omdat Cato self dikwels na haar ‘ou’ self verwys glo ek dat dit die leser heelwat begrip gee vir die geweldige veranderinge wat die karakter ervaar in haar menswees en binne die konteks waarin sy haarself bevind. En alhoewel Cato sentraal staan in hierdie verhaal speel haar twee vriendinne steeds ‘n bepalende rol in hierdie boek.

Ek dink een van die redes waarom ek die twee boeke so geniet het, is juis die feit dat ek so met die karakters kan assosieer. Toe ek in 2006 Met ander woorde vir die eerste keer gelees het, het ek, nes hulle, aan die einde van my studentelewe gestaan – op die drumpel van ‘n onbekende ‘grootmens’-wêreld. Vier jaar later het ek ook heelwat begrip vir die feit dat ‘n mens se lewe soms paaie met jou loop wat jy nooit kon voorsien of verwag het nie; dat jy jouself soms in situasies bevind waarin sink nie ‘n opsie is nie en dat dit help as daar mense rondom jou is op wie jy kan staatmaak wanneer jy jou eie oordeel in twyfel trek.

As ek so tussen die lyne lees vermoed ek dat die tyd amper ryp is om die derde van die driemanskap – Helen – se storie ook te vertel. So van kompleks en neuroties gespanne perfeksionistiese karakter het ek lanklaas teëgekom. Haar storie sal beslis ‘n gepaste toevoeging tot die trilogie wees. (En natuurlik sal dit vreeslik gaaf wees om uit te vind hoe dit verder met dié drie se lewens gaan. Ek is nie seker of dit my nuuskierig of selfsugtig maak nie, maar ek sê maar net…ingeval iemand met insae en invloed per ongeluk hier lees… )

Droomkind Wonder: Boekeblog