Die Burger: 5 Maart 2005

Ou resep kry nuwe baadjie:

In ‘n onderhoud het Wilna Adriaanse gesê die moderne liefdesverhaal word nie gered nie, sy doen self die “reddingswerk.” Die heldin van haar Rebecca pas in laasgenoemde kategorie. Só ‘n vurige, parmantige hoofkarakter het ek lanklaas raakgelees.

Rebecca Fagan skrik vir niks. Sy het die wêreld platgetoer en gewerk met slegs ‘n rugsak op haar skouers. Wanneer ons haar ontmoet is sy terug in Suid Afrika. Sy het min geld, nog minder geduld en soek ‘n regte werk – een met goeie betaling. Wanneer sy hoor dat ‘n sekere Julian Hoffman, die aantreklike bestuurder van ‘n groot maatskappy, ‘n persoonlike assistant soek, laat sy nie op haar wag nie.

Na ‘n paar nie-amptelike onderonsies met dié enigmatiese man kry sy die werk. En dit is hier waar die vonke spat. Want eers moet sy bewys dat sy – wat nie eintlik toepaslike ervaring het nie – dié werk goed kan doen. En dan is daar die feit dat ons hier twee eiesinnige mense het wat tot mekaar aangetrokke voel sonder dat hulle dit wil erken.

Dit is ‘n ou resep met ‘n nuwe baadjie. Die taal is jonk en modern, en so ook die karakters. Die storie het hierdie leser gevange gehou – ek het vroegaand begin lees en nie opgehou totdat ek klaar was nie.

Die verhaal styg uit bo die deursneeliefdesverhaal danksy die kompleksiteit van die karakters. Rebecca het sommer baie issues, in ie jong sprekers se taal. In haar rugsak is ‘n paar donker geraamtes, by gebrek aan ‘n kas, en wanneer sy uiteindelik tot stilstand kom, kos dit ‘n rukkie om te besef hoekom dit so lank geduur het. Hier handhaaf die skrywer ‘n goeie balans – nét wanneer Rebecca se koppige aandrang op onafhanklikheid en andersheid die leser begin irriteer, word die rede daarvoor geopenbaar.

Julian word nie as die perfekte man voorgehou nie – hy is kort van draad en effe te ingenome met homself. Tog openbaar hy elke nou en dan verborge, deernisvolle karaktereienskappe wat hom en die verhaal diepte gee. Iets wat volgens my broodnodig is in die domein van die liefdesverhaal – die deursneemanlike karakter het gewoonlik mos die intelligensie van ‘n koffietafel.

Behalwe dat die liefde ondersoek word, word gekyk na die aard van die afhanklikheid, en die gee-en-neem-proses wat laasgenoemde impliseer.

Laat ons eerslik wees: Ons almal weet die twee duifies sal mekaar mettertyd vind, want dit is die doel van die liefdesverhaal. Dit is die reis daarheen, die droom daarvan, waarvoor ons val.

Vál en val maar weer, sê ek, as nog sulke verhale op my pad kan kom.