Beeld: 16 Mei 2005

Iewers in die 11de eeu het minnedigters (of troebadoere) hul opwagting in Frankryk gemaak en sommer ook die liefdesverhaalkuns op die wêreldtoneel ingelui.

Die liefde in al sy misterie en wonder was hul onderwerp en hulle het hul gehore tot in die siel geboei daarmee. Dit is tot vandag toe so, want liefdesverhale verkoop van alle genres wêreldwyd die beste.

Daar is uitgewers (by name in Kanada) wat tot ‘n kwartmiljoen eksemplare op ‘n keer van ‘n liefdesroman druk. Die liefdesverhaal het gekom om te bly. Skrywers soos Adriaanse weet dit en ontgin dit vandat die leser die boek oopmaak tot op die laaste bladsy.

In Rebecca trap Wilna Adriaanse nêrens buite hierdie grense van dié genre nie. Dis puur ‘n liefdesverhaal en dit gaan oor die ewige soeke na die regte maat.

Die heldin, Rebecca Fagan, is tiperend van ‘n groot sektor van vandag se postmoderne jong mense – fassinerend en interessant, intelligent en vol kennis. Sy vaar oormoedig die lewe in, blykbaar sonder dat enigeiets haar begrens. Sy kom dus verskriklike dinge oor en sit gevolglik op ‘n jong ouderdom met soveel bagasie dat sy emosioneel swaarkry.

Maar net daar hou die tipering op.

Rebecca is ‘n individualis wat nie toelaat dat die lewe haar onderkry nie. Sy is die ene paradoks, geleerd en sexy, tegelyk broos en diep. Sy is werklik braaf, soms volslae obstinaat, maar so dierbaar dat sy die leser se hart dermate steel dat hy/sy nie kan ophou lees nie. (Ja, natuurlik lees mans ook liefdesverhale! Vra maar bietjie rond onder dié wat eerlik is…)

Ewenwel, Rebecca het ‘n regsgraad, ‘n rugsak en ‘n diep verwonde gemoed. Sy is hardekwas en vasberade, maar “haar vel is nie so dik soos sy wil voorgee nie.” (p.254) Haar vriende beskou haar as besonders, maar ook “besonder eiesinnig” (p.41). Sy kom in Kaapstad aan en soek werk. Natuurlik op ‘n baie onkonvensionele manier.

Sy loop dr. Julian Hoffman, ‘n erfgenaam van ‘n multimiljoenrand-maatskappy in ‘n parkade trompop, want sy wil werk hê, ‘n “regte” werk wat betalend is. Sy het waagmoed en deursettingsvermoë (p.25).

Dr Hoffman is egter geensins beïndruk nie. Hy is ‘n formidabele man en laat hom nie voorsê nie. Rebecca egter ook nie, en uit hierdie wrywing tussen twee sterk karakters, vloei ‘n verhaal wat boei.

Adriaanse verstaan die kuns om van dialoog gebruik te maak om die verhaal se tempo te reguleer. Dis lewendige, natuurlike dialoog wat die leser teen wil en dank by die verhaal betrek. Dit dra by tot die goeie karakterisering en ook die newekarakters maak aanspraak op die leser.

Adriaanse ontgin die ruimte in die verhaal werklik goed wat betref Kaapstad en die wildtuin. Maar plekke soos Londen en New York waar die karakters besoek aflê, kom nie tot hulle reg nie. Dis byvoorbeeld nie genoeg om te sê dat die maatskappywoonstel op Central Park uitkyk nie. Die leser wil weet hoe lyk die uitsig.

Rebecca is egter ‘n werklik boeiende lekkerlees roman en mens hoop daar kom meer sulke dik stories om lang ure mee te vul.