Die Volksblad: 28 Februarie 2005

Hierdie leser is nie ‘n groot aanhanger van liefdesromans nie, maak nie saak in watter taal dit geskryf is nie. Dié roman van Wilna Adriaanse het my derhalwe heeltemal onkant gevang. Ek kon dit nie neersit nie.

Die boek handel oor Rebecca Fagan wat na twee jaar se swerf in die buiteland besluit dis tyd om huis toe te kom. Sy is 25, het ‘n graad in die regte, ‘n groot mond, baie moed en is op soek na ‘n opwindende werk met ‘n groot salaris.

Sy hoor by ‘n kennis dat die miljoenêr-sakeman Julian Hoffman op soek is na ‘n nuwe assistant en besluit om vir die pos aansoek te doen. Die pos is nie geadverteer nie, en sy beraam ‘n slinkse, onordidokse manier om die man te oortuig sy is die beste kandidaat vir die pos.

Onkant gevang deur haar oorspronklikheid stel hy Rebecca aan as sy persoonlike assistant, en sy oortuig hom gou van haar vaardigheid. As Julian se regterhand beweeg sy in die eksklusiewe sake- en sosiale kringe in Kaapstad. Sy leer ken Julian se vriende en familie, maar word ook gekonfronteer met beelskone meisies wat gedurig aan sy sy is.

Dis nie lank voor die spanning breekpunt bereik nie. Julian besef sy is meer as ‘n sekretaresse vir hom, maar al sy pogings om toenadering te soek word opsy gestoot, want Rebecca dra ‘n donker geheim met haar rond.

Die verhaal het ‘n sterk storielyn en die karakters is oortuigend beskryf. Al wat hinder is dat die dialoog soms baie lomp is – mense praat tog nie in die werklike lewe so nie.

Die kritiek ten spyt behoort die boek ‘n vinnige treffer te wees onder liefdesverhaalverslaafde lesers.