Die Burger: 7 Februarie 2004

Wilna Adriaanse se “Die Reuk van Verlange” is baie realisties geskryf. Die hoofkarakter is die parmantige Josslyn Neethling, ‘n dokter by ‘n afgeleë sendinghospitaal in die hartjie van Kenia. Hoewel sy heeltemal oorwerk is en beslis nie ‘n luukse lewe lei nie, is sy baie gelukkig – tot die dag dat haar eerste en groot liefde, dr. Adam Berkowitz, by die stasie opdaag om te help opereer.

Die vonke, om dit ligtelik te stel, spat behoorlik. Maar die skrywer beperk haar nie net to vonke en verlange nie. Hier word besliste kontraste gestel – die arm dokter wat haar doodwerk vir die gemeenskap teenoor die ryk dokter wat maklik sy hand in sy sak steek en geldelike hulp gee. Wie het dan reg?

En wat is ware liefde – as daar soiets bestaan? Die leser sal vind, dat soos met elke ander liefdesverhaal, die kern van die liefde maar by die geliefde lê.