Om ten spyte van ‘n voorspelbare resep die meer onderskeidende leser se aandag te hou, wil gedoen wees. Adriaanse kry dit reg.

Haar verhaal speel af op ‘n sendingstasie in Kenia, ‘n omgewing waarmee sy klaarblyklik bekend is. Indien nie, slaag sy daarin om een van die skryfproses se goue reëls goed na te kom – sy skep die illusie dat sy alles daarvan weet.

Na haar man, Pieter, se dood in ‘n motorongeluk, sien dr. Josslyn Neethling alleen om na ‘n afgeleë sendinghospitaal. Haar afsondering duur egter nie lank nie, want ene dr. Adam Berkowitz daag op. ‘n Man wat eens op ‘n tyd koelbloedig verklaar het: “Ek kan nie besluit of ek jou wil hê nie.” (73) Maar dit het haar nie gekeer om op hom verlief te raak nie.

En sy is nie gereed om hom weer te sien nie (145). Dit skep ‘n dilemma, maar die “geraamtes wat met Adam se verskyning weer by haar begin spook het, sal weldra tot rus kom as sy net nie aandag daaraan gee nie.” (124) So eenvoudig is dit egter nie…

Dis ‘n meesleurende en interessante verhaal.