Beeld: 24 November 2008

‘n Boek met só ‘n slim titel verdien aandag.

Adriaanse is ‘n voormalige skrywer van boeke vir die Jasmyn-reeks en met Ester bewys sy dat sy wegbeweeg het van formule-agtige liefdesverhale.

Meer in die rigting van boeke wat deesdae as chick-lit bestempel word; ontspanningsverhale wat nie net die hormone laat pomp en sentimentele romantiese ideale verstewig nie, maar wat die leser erken as ‘n moderne ontwikkelde vrou wat weet wat om haar aangaan en beslis ‘n goeie skoot realiteit kan verwerk.

Die karakters is meer kompleks, die verhaallyn meer verwikkeld en daar is beslis geen voorspelbaarheid in die verloop nie.

Ek dink daar is heelparty resensente wat dink die genré is onwaardig – maar wat lees hulle as hulle net wil ontspan sonder om die grysstof heeltemal te ignoreer? Die Kama Sutra?

Hierdie een se storie: Ester Green is ‘n fotojoernalis – maar sy is geen groentjie nie; sy ken die lewe-eerstehands. Haar pa is Joods, hy was die redakteur van ‘n groot koerant; haar ma Afrikaans. Haar ouers word een aand in hulle oprit doodgeskiet- geensins ‘n lukrake misdaadgeval nie, maar dit noop haar steeds om Suid-Afrika te verlaat en na Londen te trek.

Daar hervestig sy haarself totaal: sy verander haar klere, haar sosiale kring en word ‘n mode-fotograaf. Afrika is in sy maai en sy stel nie meer belang nie, dankie!

Twee jaar later is sy egter terug in die land vir ‘n shoot in die Laeveld. Daar ontmoet sy Samuel Mcgreggor, veearts en omgewingskenner. ‘n Belese, welsprekende man, uitgesproke en deel van die kontinent wat sy so inderhaas verlaat het. Sy dink hy is naïef. Hy dink sy is stroom-op. (goed, die deel is bietjie cliché-matig.)

In die tyd wat die twee mekaar takseer en sy ‘n stryd voer teen haar wortels, die land en en die man, ontdek sy haar eie bande met haar omgewing, sy mense en haar Joodse herkoms – en die proses is swaar. “Afrika se klei word nie maklik uit jou hare gespoel nie…”

Die boek is heerlik, hoewel dit soms voel of die dialoog “toesprake” is met geweldige bykomende nagevorste inligting.

Dit is ook nié ‘n Ingrid Winterbach of ‘n Marlene van Niekerk nie – en probeer dit ook geensins wees nie.

Dit is ‘n lekkerlees-boek van waarde. Goeie chick-lit soos ons dit in Afrikaans nodig het. Ideaal vir ‘n Saterdagmiddag op die rusbank, voete in die lug en ‘n glas wyn in die linkerhand.