Radio OFM: 16 Maart 2009

Moenie dat die titel van die boek jou mislei nie! Hoewel die hoofkarakter, Ester, in baie opsigte wel met koningin Ester, oftewel Hadassa ooreenstem, is hierdie nie ‘n Bybelverhaal nie. Ester Green, ‘n politieke joernalis, hardloop weg van alles wat bekend is na haar ouers in Johannesburg vermoor word. Dan bly sy kwaad vir Afrika en die lewe.

Totdat sy as ‘n Londense modefotograaf deur ‘n fotosessie na Afrika en Johannesburg terug gedwing word, en die son op ‘n wildplaas, Bulweni, haar hart steel. Sy ontmoet ook ‘n misterieuse dog eenvoudige man, Samuel Mcgreggor, wie se aanvaarding van moeilikhede in die lewe haar irriteer en oorweldig.

Soms raak Ester se sinisme en negatiwiteit irriterend, maar jy sal nie die boek neersit totdat jy weet of sy weer die mooi in die lewe kan raaksien nie. en natuurlik is dit ook tot op die laaste bladsy onseker of die held haar hart gaan wen! Hierdie is ‘n hartroerende verhaal van ‘n sterk vrou wat vir haar siel weghardloop, en dit in Afrika kom vind. Tien uit tien!