Rapport 15 Februarie 2009

As politieke fotojoernalis het Ester Green al met verskillende fasette van die lewe kennis gemaak en grootgeword in ‘n huis waar sy geleer het die pen is ‘n magtige wapen. Sy is die dogter van Leon Green, ‘n Jood wat as jong man Suid-Afrika toe gekom het en later een van die suksesvolste redakteurs van ‘n dagblad in die land geword het.

Alles wat sy geleer het en alles waarin sy geglo het, word egter een aand omvergewerp toe haar ouers buite hulle huis doodgeskiet word deur lede van ‘n sindikaat wat deur Leon se koerant ondersoek is. Ester pak na die begrafnis haar haar tasse en trek Londen toe waar sy ‘n vryskut-modefotograaf word en beplan om nie weer haar voete op die Afrika kontinent te sit nie.

Twee jaar nadat sy die land verlaat het, bevind sy haar egter terug in Suid-Afrika vir ‘n mode-artikel wat in die Laeveld geskiet word. Hier ontmoet sy Samuel Mcgreggor, ‘n veearts wat by verskeie bewaringsorganisasies betrokke is.

En dan begin sy die pad na aanvaarding stap. En sy besef Afrika se grons word nie maklik uit ‘n mens se skoene geskud nie.

Wilna Adriaanse is ‘n besonder opwindende skrywer met ‘n seldsame aanvoeling vir die liefdesverhaal-genre en dié een is geen uitsondering nie.