Beeld 22 Jan 2003

Michael Alheit, ‘n geharde joernalis is ‘n intelligente vrou se held. Enigmaties, ervare, en dan is hy nog aantreklik ook. Maar hy versamel vroue soos posseëls. So loop die stories.

Dit is Francis Malan se dilemma en boonop glo sy nie juis aan ewige liefde nie.

Maar die liefde laat hom nie deur allerlei vooropgestelde idees beïnvloed nie. Daar is ook Tim, ‘n man wat uiters ekonomies met emosies omgaan, want “hy glo nie daaraan om oor persoonlike dinge te praat nie.” (p 72.) Tog bied hy ‘n veilige soort verhouding en Francis is, ten spyte van haar ietwat hardekwas houding innerlik broos. Daarom trek Michael haar aan én stoot hy haar af. Hy swerf as joernalis die wêreld vol en nou en dan kom hy terug Kaap toe, of kom daar ‘n oproep wat haar telkens van balans gooi.

Die skrywer benut dan ook juis hierdie omswerwinge in haar verhaal en neem die leser mee na onder meer Spanje en Londen. Hierdie verskillende ruimtes gee ‘n opwindende dimensie aan die storie. Adriaanse gaan spontaan en speels met die liefde om en verstaan die leser se sug na romanse. Die introspeksie by die karakters is Sielkundig deeglik gefundeer. Sy ontplooi ingewikkelde mense verhoudings met fyn presisie en haar karakters is eg hoewel van die randkarakters soos Melissa en Tim ietwat beter ontgin kon word.

Die storielyn maak ‘n interessante, dog amper fabelagtige kinkel, maar dis so heerlik romanties dat ‘n mens dit gewilliglik glo.