Onderhoud met Mariana Malan:

Die Burger: 6 Januarie 2005

Sy soek nie na stories, dit kry haar

Daar skuil meer in ‘n ligte liefdesverhaal as net die held en heldin se romanse.

Daar is ‘n struktuur – riglyne waaraan voldoen moet word, beperkinge en selfs ‘n beperking op hoeveel woorde gebruik mag word.

Wilna Adriaanse van Durbanville in die Kaap moes vinnig leer hoe sake in die wêreld van liefdesverhale werk. Vyf jaar gelede het sy niks geweet nie. Vandag het sy reeds nege boeke agter haar naam.

Haar vyfde boek vir Tafelberg-uitgewers, Rebecca, het pas verskyn. Die ander vier, ‘n Ongewone belegging, Alleenvlug, Die Reuk van Verlange en Serenade vir ‘n Nagtegaal) het onder Tafelberg se drukkersnaam, Jasmyn, verskyn. Sy het ook reeds vier boeke (Die Wingerd sal weer bot, ‘n Heildronk op die Liefde, Liefde is ‘n Kleur en Brug van Woorde) onder die naam Wilmine Burger vir Lapa-uitgewers geskryf. Sy het twee jaar gelede dié uitgewery se prys vir die liefdesroman van die jaar gewen.

Dit is vir haar belangrik om sterk heldinne te skep.

“In die verlede wou heldinne gered word. Vandag doen hulle sommer die reddingswerk self. Tog is dit so dat elkeeen, hoe sterk ook al, die behoefte het om eendag iemand te ontmoet wat hom of haar volledig aanvul.”

Sy vertel dat een van die geheime van hierdie soort roman is dat die leser in die vel van die heldin kan klim. Om hierdie rede word daar vanuit háár perspektief geskryf. Lesers sien nie werklik die ander karakters se kant van die saak nie en hulle het ook nie ‘n vertellerstem nodig nie.

“Daar is gewoonlik nie ‘n geheim in die einde opgesluit nie. Almal weet die held en heldin gaan bymekaarkom. Die spanning lê in die hóé dit gaan gebeur.”

Sy het gou geleer dat mense hulle met baie aspekte van liefdesverhale kan vereenselwig.

“Mense reken dikwels hulle moet deur groot waarhede aangeraak word. Ek het al agtergekom dat dit die klein dingetjies is waaruit mense leer.”

Sy gaan soek nie na stories nie. Stories kry haar, sê sy. Haar familie kom uit die Noordweste en is almal “storiemense.” Haar karakters is dikwels saamgestel uit karaktereienskappe van meer as een persoon wat sy al leer ken het.

Haar boeke is vir haar soos familielede. Sommiges stel sy makliker aan vreemdelinge voor.

“Een of twee is soos daardie familielid vir wie jy eintlik skaam is,” sê sy laggend.

“As mense hoor ek skryf liefdesverhale wil hulle altyd weet of ek hygromans skryf. Daar is ‘n duidelike verskil tussen die twee.

“In ‘n liefdesverhaal gaan dit eerder oor die karakters se emosies as oor grafiese beskrywings. Ek het groot respek vir skrywers wat jare met groot omsigtigheid liefdesverhale skryf. Dis soms nogal ‘n ondankbare werk, want die skrywers dien eerder hul lesers as hulself.”

Hoewel sy van kleins af lief was vir lees, het sy eers begin skryf toe haar oudste seun in 1999 koshuis toe is.

Haar volgende boek, ‘n “mediese liefdesverhaal”, sal in Maart verskyn.