Onderhoud met Kirby van der Merwe

Media 24: 28 Februarie 2009

Oranje Lipstiffie vir ‘n olifant ‘whisperer’

Wilna Adriaanse se jongste roman, Die Boek van Ester, beloof om, nes haar vorige boeke, liefhebbers van romantiese fiksie tot laatnag aan die lees te hou.

Kirby: Waaroor gaan jou nuwe boek?

W: Afrika, politiek, romanse, angs, passie, bewaring en groen kwessies, humor, die reuk van vuur, die lewe…

K: Jy is ‘n Worcester meisie?

W: Volgens my ouers en geboortesertifikaat is ek 50 jaar gelede met die rooi sand van die Kalahari tussen my tone gebore. Maar ek het tussen die berge en wingerde van Worcester grootgeword en ek en my man woon sedert 1987 in Durbanville.

K: Wanneer het die skryfgogga jou gebyt?

W: Om middernag op 31 Desember 1999 in die Switserse Alpe. Ek is mal oor Nuwejaarsvoornemens en dit was my gróót besluit met die aanbreek van die nuwe millenium.

K: Wat is jou idee van volmaakte geluk?

W: Laatnag met Bruce Springsteen se “Waitin on a sunny day”, “If I don’t see you again,” van Neil Diamond, Gnarles Barkley se “Crazy” óf “This is the life,” van Amy Macdonald in die cd-speler: “Oh the wind whistles down/The cold street tonight/And the people they were dancing to the…” en ‘n karakter van die boek waaraan ek skryf, begin met my dans.

K: Wat was die mees romantiese ding wat jy al geskryf het?

W: Waar Ester in Die Boek van Ester van Samuel sê dit lyk of hy die son in sy lyf dra.

K: Wat jaag jou die skrik op die lyf?

W: Dat ek nie meer al my bure ken nie. En Julius Malema.

K: Met wie van die roemryke figure in die geskiedenis vind jy die grootste aanklank?

W: Oscar Wilde. Ons het min of meer ewe veel opinies oor alles en nog wat.

K: Indien jy die langpad vat, waarheen?

W: Êrens waar ek wilde diere kan gaan besigtig. Ek is mal oor al die kolle, strepe, slurpe, horings en lang nekke.

K: Van al jou deugde, watter een word heeltemal oorskat?

W: Ek is nie so ‘n goeie ma as wat ek dink ek is nie.

K: Lieg jy ooit?

W: Dit hang af hoe jy daarna kyk.

K: Watter woorde of sêding gebruik jy dalk te veel?

W: Oukei.

K: Wat is die ding waarsonder jy moeilik kan klaarkom?

W: My rooi flash disk.

K: Waar is/was jy op jou gelukkigste?

W: Die dag toe my kinders, Cobus, Jaco en Johann, oud genoeg was om saam met my te gaan fliek. Dis soveel opwindender as ‘n rondomtalie in die speelpark.

K: En die anderkant van die munt?

W: ‘n Wêreld sonder oranje lipstiffie, boeke, donker sjokolade en my ma se vleisslaai.

K: Watter kuns sal jy graag wil aanleer?

W: Die een of ander Oosterse gevegkuns sodat ek myself uit ‘n penarie kan kry.

K: As wat sal jy in ‘n tweede lewe wil terugkom?

W: Ek vermoed hierdie is reeds my tweede ronde…Ek was in my eerste lewe ‘n hofnar en vir my straf het ek teruggekom met ‘n verdraaide humorsin.

K: Waar wil jy graag woon?

W: Saam met die held van my nuwe boek.

K: Wat is jou beste kenmerk?

W: Ek droom in volkleur.

K: Watter eienskap waardeer jy die meeste in ‘n man?

W: Manlikheid.

K: En in ‘n vrou?

W: Vroulikheid.

K: Wat van jou vriende stel jy die hoogste op prys?

W: Dat hulle met my vriende is.

K: Wie is jou gunsteling skrywers?

W: Ek het nie gunstelingskrywers nie. Net gunstelingboeke, soos die Tessa-kinderboekreeks van my kinderdae. Tryna du Toit se Wag ‘n bietjie, Exodus van Leon Uris, Atlas Shrugged van Ayan Rand en An Equal Music van Vikram Seth.

K: Jou gunsteling- fiksieheld?

W: As kind wou ek graag Tessa wees wat skoolvakansies gaan perdry het.

K: Wat doen jy vir die lekker?

W: Lees, natuurlik. En fliek en kuier. Drie dinge waarvoor ek nie tyd kry wanneer ek skryf nie. En ek is besig met my MA in skeppende skryfwerk by die Universiteit van Kaapstad.

K: Is daar ‘n nuwe boek aan die kom?

W: Ja, ek gaan terug na die karakter, Cato uit my vorige boek, Met ander woorde, wat in 2006 verskyn het.

K: Watter beroep sou jy die graagste beoefen?

W: ‘n Olifant-whisperer.

K: Bestaan romanse nog?

W: Ja, maar sy gesig lyk anders.