Jou jongste boek, Vier seisoene kind, is onlangs bekendgestel, en mens kry weer eens ’n gevoel dat jy met die uiterste gemak ’n boek skryf. Is dit so, of is jou karakters net van so aard dat hulle dit maklik maak vir jou?

Ongelukkig is dit nie so maklik soos dit klaarblyklik lyk nie. Elke boek gaan maar met die nodige gewroeg en gekners gepaard. Die karakters maak dit ook nie altyd maklik nie, want elkeen kom met sy of haar eie persoonlikheid en wil nie altyd voorgesê word nie. Dit help egter dat hulle maar net gewone “mense” is wat ook maar net probeer om die lewe te oorleef. Daarmee kan ek identifiseer.

In Met ander woorde is Kristina die hoofkarakter, met haar vriendinne Cato en Helen as newekarakters. Jy volg dit in Vier siesoene kind op met Cato se verhaal, so ek neem aan ons kan ’n boek oor Helen te wagte wees?

Cato was nooit veronderstel om haar eie boek te kry nie, en ek was baie verbaas om haar een oggend voor my bed aan te tref, met die opdrag dat ek haar storie moet vertel. Op hierdie stadium het Helen nog nie met so ’n versoek gekom nie, maar ek is nou te bang om te sê nooit nie.

Die drie meisiekinders in die boek is als behalwe preuts en uit die oude doos, maar nie alle lesers aanvaar al dat Afrikaanse-boek-vroue ook drink en vloek nie. Hoe hou jy die meer ouderwetse lesers aan jou kant?

Uit die lesers se briewe kom ek agter dat baie lesers, oud en jonk, lees omdat hulle aanklank by die karakters vind. En solank daar begrip en empatie is, kan ’n mens nie veroordeel nie. Ek is baie dankbaar dat al hoe meer lesers sonder allerhande verwagtinge en vooropgestelde idees die boeke lees en dat die terugvoer positief bly.

Jy het ’n hele paar standaardliefdesverhale op jou kerfstok, selfs onder ’n skuilnaam, maar met Die boek van Ester is dit asof die breër lesersmark van jou begin kennis neem het. Wat het die skuif in jou styl (of dalk genre) teweeggebring?

Aan die een kant ’n vrees dat ek dalk op ’n dag gaan begin karakters en storielyne kloon, en om dit te voorkom, moet ek ’n groot verskeidenheid storielyne ondersoek. Deels dalk omdat ek gou verveeld raak en altyd op soek na iets nuuts is. ’n Derde rede is dalk omdat ek nie graag net oor “boy meets girl and they lived happily ever after” skryf nie. Verhoudings en die lewe is tog veel komplekser as dit. En die laaste rede is waarskynlik omdat ek glo daar is ’n groot mark vir boeke wat die lesers laat ontspan, maar terselfdertyd hulle gedagtes en verbeelding prikkel. Ek hoop ek slaag daarin.

Ek sukkel om jou boeke, veral die nuwer werke, in ’n spesifieke genre te plaas. Dis romanse, maar nie soos die boeke waarmee jy afgeskop het nie. Waar dink jy pas dit in?

Die skrywer Michiel Heyns het by die onlangse Franschhoek Literary Festival die woord realisme gebruik en ek het besluit om die term by hom te leen. Ek dink ek skryf realisme met so ’n proeseltjie romanse by! Dis populêre fiksie en dit maak my moedeloos dat sommige resensente aan die einde van ’n resensie, selfs ’n baie goeie resensie, dit nodig vind om te noem dat dit nie ’n literêre werk is nie. My boeke was nog nooit bedoel om literêr te wees nie.

Jy het al voorheen gesê jy soek nie stories nie, dit kry jou. Is dit hoe maklik dit is, of het jy net ’n baie bedrywige muse?

Ek het relatief laat in my lewe begin skryf, so ek vermoed my muse werk op die oomblik oortyd! Maar dit is nie altyd so maklik nie en elke keer as ’n storie sy opwagting maak, is ek baie verlig en dankbaar. Dalk daarom dat ek my karakters met groot nederigheid hanteer, want ek weet hulle kan net so vinnig weer verdwyn.

Het die volgende verhaal hom/haar al kom aanmeld, en mag ek vra waaroor dit gaan?

Op die oomblik werk ek aan ’n manuskrip vir my meestersgraad by die Universiteit van Kaapstad. Dit is die eerste verhaal wat heeltemal gaan afwyk van my ander verhale. Dis ’n groot voorreg om dit onder leiding van Etienne van Heerden te skryf en dit het na ’n goeie tyd gevoel om heeltemal weg te breek en iets anders te skryf. Maar ver in my agterkop is ’n storie aan die woel en sodra die studies agter die rug is, sal ek gaan kyk waarheen die karakters my wil neem. Op hierdie stadium is dit egter nog te vaag om al iets daaroor te sê.

Is jy ’n aartsromantikus, of kyk jy af by mense na aan jou?

Tussen my en my man en ons families is ons klomp oor die 200 jaar getroud, so ek kan dalk nie anders as om te glo daar ís wel iets soos “vir ewig” nie! My idee van romanse is waarskynlik nie heeltemal soos die handboek dit beskryf nie, en rooi hartjies en eindelose diep kyke in mekaar se oë doen dit nie vir my nie. Maar ek glo dat sekere verbintenisse die lewe net soveel interessanter maak.

In Alleenvlug is een van die karakters se van Alheit. In Vier seisoene kind figureer dié ongewone van weer. Is daar iets spesifiek aan die familienaam wat ons moet weet? ;-)

Dis bloot toevallig. Ek het deur die jare geleer dat elke karakter ’n spesifieke naam wil hê en hulle gee nie hulle samewerking totdat die name reg is nie. Jacob het eers ’n ander van gehad, maar om een of ander rede wou dit nie werk nie. Totdat ek die van Alheit probeer het, en eers toe het hy vir my geglimlag. En glo my, ek het op en af deur die alfabet gewerk.

Voltooi die sin: Wilna Adriaanse skryf oor die liefde omdat …

… the course of true love never did run smooth, but even logical positivists are capable of it …