Onderhoud met Sarenda Eloff-Vorster

Rooi Rose: Februarie 2003

Heerlik Romanties

scan0133.jpg

Wilna Adriaanse van Durbanville het op Oujaarsaand 1999 besluit om in die jaar wat voorlê ‘n boek te skryf. Sy, haar man en hulle drie seuns het die nuwe jaar in Switserland ingewag toe sy dié besluit geneem het.

Dis nou drie en ‘n bietjie jaar later en vier boeke, almal blitsverkopers, het sedertdien die lig gesien. Twee het onder ‘n skuilnaam by Lapa-uitgewers verskyn, en meer onlangs is ‘n Ongewone Belegging en Alleenvlug deur Tafelberg uitgegee. Die laaste twee is deel van die Jasmyn-reeks liefdesverhale en albei boeke, trouens die hele reeks, se drukoplaag het byna in ‘n oogwink uitverkoop.

Dis veilig om te sê dat Wilna ‘n aartsromantikus is. Die idees vir haar stories kom so maklik omdat sy in siel en gees en lewe gló aan romanse. “Nie noodwendig die soort wat kersligetes en stadige tango’s veronderstel nie, hoor.”

Sy vertel: “As ons na ou flieks kyk en ek die klassieke boeke lees, lyk dit of romanse in ons moderne samelewing uitgesterf het. Waar in hierdie supersoniese lewe kry ons nog tyd vir roosblaarbaddens en passievolle nagte saam? Vir handgeskrewe briewe op geblomde skryfpapier wat na katjiepiering ruik?

“Nee, dié is yl gesaai, maar in die plek daarvan het ‘n nuwe soort romanse ontstaan. Of dit beter of slegter as die ou soort is? Wie sal weet? Ons kan net probeer om soos met baie ander dinge ook hierdie nuwe vaardigheid aan te leer, want ons behoefte aan liefde, koestering en aanvaarding bly dieselfde.”

Dus, in die plek van lekkerruikbriewe word elektroniese briewe gepos, haastige sms’e per selfoon gestuur, ‘n vinnige afspraak vir middagete ingepas, want albei kan nie vyfuur by die huis wees nie, of ‘n pa-en-kinders-dag word ingeruim sodat ma alleen kan wees.

Dis ook nie meer ‘n gegewe dat lewensmaats saans onder dieselfde dak bymekaarkom nie. Wilna se man het die afgelope jaar in Lagos, Nigerië gewerk en hulle moes ander maniere vind om die romanse lewend te hou.

“Vir my het romanse met kopspeletjies te doen. Soos ‘n vinnige sin wat meer bedoel as wat die woorde sê, begrip vir mekaar en intellektuele stimulering. Dis soos ‘n hartskonneksie.”

Wilna sê die opmerking wat sy die afgelope jaar die meeste gehoor het, was vroue wat vir haar sê: “Dit moet so lekker vir jou wees dat jou man in ‘n ander land woon.”

“Dis vir my jammer dat hulle so voel. Natuurlik waai die aanvanklike verliefdheid oor, maar dit maak plek vir iets baie spesialers – ‘n nuwe soort romanse waarvoor jy jou kop moet gebruik.”