The day we die, a soft breeze will wipe out our footprints in the sand. When the wind dies down, who will tell the timelessness that once we walked this way in the dawn of time? (San song.)

EEN

Selfs die vinke en die versamelvoëls knoop tog êrens daardie eerste halm vas. Hoe anders gaan hulle die res van die vlegwerk gedoen kry? Sy was deur die jare dikwels die stil toeskouer in haar tuin wanneer die bouproses begin. Maar dis nie so maklik nie, kom sy agter, terwyl haar gedagtes heen en weer fladder. Daar is soveel gevare om in te reken. Die slinkse boomslang wat graag sy lê in die holte van die nes kom kry en die eiers opvreet as sy nie oppas nie. Of die koekoek wat haar eiers in die nes sal kom lê en daar los om uitgebroei te word. Om nie te praat van die wind en die weer se aanslag nie. Die slimmes kies stewige takke, het sy al agtergekom.

Volgens oorlewering kies ‘n kind sy of haar ouers. Sy hou nogal van daardie gedagte, maar seker ook net omdat sy reg gekies het. Praat van stewige takke. Haar mense was nie tolbosse nie.

Jy is nie objektief nie, hoor sy al die beskuldigings.

Ek is met donkermaan gebore, sal sy antwoord. En donkermaan is simbolies van subjektiwiteit.

Sy beny soms dié wat met die volmaan gekom het, maar dit sal sy nie sê nie.

Daar sal gevra word of sy die nodige insig het. Of ‘n skrywer noodwendig haar eie storie beter verstaan? Sy wonder of hulle begrip sal hê as sy sê op haar ouderdom is jy hoogstens ‘n karakter in jou eie storie. Een met geen vooraf kennis en weinig insig. Soms huppelend agter die storie aan, ander kere sleepvoet agterna. Die storie altyd ‘n kortkop voor.

Dis soos Totius se gedig, Pa. Waar hy vertel van die wag-‘n-bietjie langs die pad, daar tussen die skaarsbeblaarde soetdorings. Lowergroen en blink van blad.

En wil ek in die blare gryp

of aan die takke breek,

dan tas ek in ‘n doringnes

wat vreeslik haak en steek.

Haar pa knik. En tog sal jy die begin maar so saam met die donkermaan aan Vytjie se kopdoek moet vasknoop.

Sal julle my vertel?

Haar ma se blou oë met die kunslense blink in die sonlig.

Waarom wil jy dit doen? Haar pa se blik rus op die hoë muur met die lemmetjiesdraad op wat al om die aftreeoord strek.

Die kinders wil landuit, Pa. Sommer so met ‘n rugsak en ‘n vliegkaartjie sonder terugkomdatum. En oor die stemme wat dreig om my te vervreem. Wat vra hoe leef ek met my wit vel in hierdie vreemde plek.

Sy hande met die krom vingers raak-raak aan haar ma s’n en dis asof die oumensvlekke ligter word.

Net tot daar waar jou onthou ‘n eie knoop kan maak.



Terug na Tuisblad